Free Web Hosting by Netfirms
Web Hosting by Netfirms | Free Domain Names by Netfirms

Nederduitsch Hervormde Gemeente

Welgelegen Pietersburg

 

 

A P O S T O L A A T

GETROUE GETUIES:

Die gemeente het oor die afgelope paar jaar verskeie “Getroue Getuie” kursusse aangebied waarin ampsdraers en lidmate toegerus word om die evangelie met ander te deel. Die kursus vind plaas oor 12 weke en word gedurende 2002 deur ds. P. Nolte van die Oostelike Gemeente en ouderling Apollo Kellermann van die Welgelegen Gemeente aangebied.

GETROUE GETUIES

'N LEWENSSTYL VAN DIENS

Die woord "evangelisasie" laat dikwels mense se hare regop staan, of gee 'n knop op die maag, of laat ons skuldig voel. Hoekom? Want ons is bang om iemand trompop te loop en "te probeer bekeer". Heelwat van die kursusse wat in omloop is het die soort benadering waarvolgens iemand gekonfronteer word met die vraag: "As jy vannag sou doodgaan, is jy seker jy gaan hemel toe?" Vir baie van ons voel dit te konfronterend, arrogant en veroordelend. Ons voel verder dat ons nie die vermoë het om mense te oortuig om in God te glo nie. Ja, ons het nogal heelwat "emosionele bagasie" as dit by evangelisasie kom.

Die "Getroue Getuies" kursus het egter 'n totaal ander benadering - diè van diens-evangelisasie. In Engels - service evangelism. Met ander woorde, as volgeling van Jesus Christus dien en be-dien ek ander mense. Ek dien omdat Jesus Christus my stuur. Elkeen in die gemeente (die liggaam van Christus) kan iets doen om die gemeente in haar evangelisasietaak te help, byvoorbeeld dinge soos: bring 'n buitekerklike familielid, vriendin, buurman of kollega saam na die erediens; besoek buitekerklike mense in die gemeenskap, nooi hulle na eredienste en bied die dienste van die gemeente aan op maniere wat aanvaarbaar en gemaklik is; besoek mense wat deur moeilike tye gaan; help met vervoer na en van die kerk vir diegene wat dit nodig het; dien op 'n gasvryheidskomitee om 'n vriendelike atmosfeer te skep; dien as plekaanwyser by die erediens; en nog baie meer.

Tydens die verskillende sessies gesels ons oor ons eie idees en voorbehoude oor evangelisasie en probeer om by 'n werkbare definisie uit te kom. Ons gesels oor luistervaardighede en ontwikkel dit deur rollespelle. Een van die belangrike uitgangspunte van die kursus is dat ek die reg om deur iemand anders aangehoor te word, eers moet verdien deur effektief en op 'n egte manier na die persoon te luister. Daarom ontwikkel ons meer as luistervaardighede - ons ontwikkel 'n gesindheid van OMGEE!

'n Baie interessante deel van die kursus is wanneer ons ons eie geloof begin ondersoek en vir onsself vra: WAAROM GLO EK/WAAROM IS EK 'N CHRISTEN? Dit lei tot baie interessante gesprekke en verdieping in elkeen se verhouding met Jesus Christus.

Ons leer ook hoe om die evangelie in verskillende situasies in mense se lewens te kan gebruik en toepas - sodat dit vir hulle hoop kan gee, wanneer hulle die liefde van God op 'n nuwe manier begin raaksien.

Die belangrikste is seker die besef:

• Elkeen in die gemeente kan iets doen om die gemeente met haar evangelisasie-taak te help, en eintlik is dit nie moeilik nie.

• Ons storm nie in mense se lewens in en laai die waarheid af en vertrek dan weer nie. As getroue volgelinge van Jesus Christus is ons geroep om deur liefdevolle diens dele van mense se lewens te word en hulle effektief met die God se liefde te bedien.

RAAD VIR APOSTOLAAT VAN DIE NEDERDUITSCH HERVORMDE KERK

'n Baie dringende versoek kom van die Raad vir Apostolaat word onder u aandag gebring:

Ds. L.J.J. Nel, die Sekretaris van hierdie Raad verduidelik in 'n skrywe aan ons gemeentes dat die Hervormde Kerk in Suidelike Afrika (HKSA) groot probleme te wagte kan wees as dit by hul finansies kom. Ds. Nel berig onder meer:

"Ons het nou egter 'n stadium bereik waar die verdere afskaling van subsidie aan die HKSA, dit wat oor baie jare tot stand gebring is, ernstige skade sal berokken. Van die een-en-sewentig gemeentes wat tans vaste predikante het, ontvang een-en-sestig 'n reiskoste-subsidie van R278,85 per maand. Die elf mees senior predikante se gemeentes ontvang traktementsubsidies wat wissel van R280,00 tot 'n enkele predikant, ds. JNR Sithole van High Flats, wat na sewe en dertig jaar diens R744,42 ontvang. Die sestig oorblywende predikante se gemeentes ontvang deur die bank R242,28 per maand. Dit is ook die bedrag waarmee 'n proponent wat beroep word na 'n sendingstandplaas gesubsideer word. Dit is daarom met groot dank en waardering wat ons dink aan die ringe, gemeentes en individue wat reeds finansiële hulp verskaf waar die relatief klein gemeentes van die HKSA in hulle armoede dikwels nie 'n predikant kan bystaan nie en hy/sy sogenaamde tentmakerbediening aanvaar. Sommige gemeentes ly in die proses skade, want min predikante kan so 'n situasie hanteer."

As daar dus van ons gemeentelede - òf u wat nou hier lees - is wat in die vermoë is om te help en graag 'n bydrae vir die Sendingwerk van die Hervormde Kerk wil skenk, sal dit baie waardeer word en u kan glo, dit sal met groot dankbaarheid aangewend word.

Vir verdere besonderhede rakende u bydraes kontak asseblief die Raad by die volgende adres en/of telefoonnommer:

Posbus 2368
Pretoria
0001

Tel: 012-322-8885

Faks: 012-322 7909

E-Pos: evangelisasie@nhk.co.za

TERUG NA BO

Tuisblad | Publikasies | Preke | Geskiedenis | Apostolaat | Fokus 40 | Administrasie | Kalender |