Free Web Hosting by Netfirms
Web Hosting by Netfirms | Free Domain Names by Netfirms

Nederduitsch Hervormde Gemeente

Welgelegen Pietersburg

 

 

P R E K E

Lydensweek 7 - Sondagoggend 20 Maart 2005 (LW: Opsomming)

Tema: Naby die kruis ver van Christus. Speletjies in die skadu van die kruis.

  • Jesus se woorde en dade van Goddelike gesag, het nie gepas by mense se verwagting van Hom was as timmermanseun gebore is nie. Vergelyk uitsprake soos: Die skare was verbaas oor Sy leer (Matteus 22:33); of daarom wou die priesterhoofde en die Fariseërs Hom gevange neem, maar hulle was bang vir die skare, omdat die Hom as ‘n profeet beskou het, (Matteus 21:46)
  • Die Joodse leiers het die eer en status wat Jesus in die volk se oë gehad het, tot niet maak. In die Nuwe Testamentiese tyd staan dit bekend as ‘n status-vernederende-ritueel. ‘n Verskeidenheid van openbare gebeure soos ‘n verhoor en politieke byeenkomste het die geleentheid gebied vir die vernietiging van iemand se openbare beeld.
  • Jesus word na die huis van die hoëpriester geneem waar die seremonie van status vernedering begin. Daar word op Hom gespoeg, Jesus word geblinddoek en van agter geslaan en uitgekoggel. Die volgende môre word Hy voor die goewerneur gebring. So begin die proses waar die priesterhoofde en die familiehoofde mense oorreed om Jesus te dood in die plek van ‘n rower - Barabbas.
Skriflesing: Matteus 27:15-37
  • Om die lot te werp was ‘n menslike metode om die Goddelike wil te bepaal. Om die lot te werp het gewoonlik beteken dat voorwerpe op die grond gegooi is, of een of ander trekking vanuit ‘n houer het plaasgevind. In die Ou- sowel as Nuwe Testament lees ons dat die lot deur te loot, by verskeie geleenthede toegepas is.
  • In ons gelese gedeelte lees ons ook die verhaal van die soldate wat geloot het vir Jesus se klere. En hierdie loting onder die soldate het bygedra tot die status vernedering en aftakeling van Jesus se eer.
  • Kan ons onsself dit voorstel hoe dit vir die Seun van God moes gelyk het. Hier aan die voet van die kruis is daar ‘n gedobbel. Terwyl die wêreld se ongewoonste gebeurtenis bo hulle afspeel, is soldate besig om doodgewoon lootjies te trek vir Jesus se alledaagse klere. Terwyl die Verlosser besig is om vir hulle en in die wêreld se plek te sterwe, speel hulle ‘n speletjie deur te loot. ‘n Speletjie wat net God se reg was in die Bybel se tyd.
  • Kom ons plaas ons lewe aan die voet van die kruis sodat die kruis van Christus sy skaduwee oor ons lewe gooi. Kom ons neem die posisie van die soldate in. Is jy dalk besig om ook soos hierdie soldate ‘n speletjie te speel terwyl die Christus vir jou sonde boet en die skadu van die kruis oor jou lewe val? Besig met ‘n magspel in jou huwelik; of ‘n spel om ander uit te buit; of ‘n spel van uiterlike vroomheid; of ‘n spel in die kerk?
  • As die kruisgebeure jou nie in beweging bring nie, jou nie beweeg tot ‘n vurige liefde en meedoen nie, dan is jou geloof en godsdiens-beoefening gebou op ‘n valse en menslike fondament.
  • Terwyl ons Verlosser met pyn en bloed en uit liefde besig is om te ly, waarmee is jy besig in die lewe? Kinderagtige magspeletjies, liefdeloosheid? Is om ander seer te maak jou speletjie? Gaan dit vir jou oor wie doen wat en wie doen hoeveel in die kerk, wie doen reg en wie doen verkeerd?
  • Die Evangelie is nie ‘n afskrikmiddel nie, maar eerder God se liefde en genade aan ons. Maar nogtans, dit maak my benoud om te dink dat ons ook so na aan die kruis van Christus kan kom soos hierdie soldate, maar inderdaad ver van Christus kan wees. Dit maak my ook angstig om te dink hoe ons soms ook besig is met speletjies in die kerk en in ons lewe en in ons verhoudinge met mekaar, terwyl die skaduwee van die kruis oor ons lewens val.

(spontaan as antwoord op die prediking)
Gesang 389:2 & 3 & Gesang 396:1 & 2

Vir verdere navrae, stuur u epos aan nhk.welgelegen@absamail.co.za

TERUG NA BO

Tuisblad | Publikasies | Preke | Geskiedenis | Apostolaat | Fokus 40 | Administrasie | Kalender |