OORDENKING
Volhard in jou geloof. Dra in alle omstandighede God se liefde uit
!
Het u ook die opmerking gehoor: ‘As dit is hoe ‘n Christen
se lewe lyk, wil ek liewer nie ‘n Christen wees nie.’ Gewoonlik ‘n
opmerking vanaf iemand wat nie so ‘n getroue kerkganger is, gemaak
teenoor ‘n gelowige wat getrou is in sy godsdiensbeoefening.
En die rede vir so ‘n opmerking is gewoonlik dat die belydenis
van so ‘n gelowige nie strook met sy manier van lewe nie. En
nou weet ons dat so ‘n opmerking nie heeltemal waterdig is nie,
want ‘n mens wy nie jou lewe aan God bloot op grond van ander
mense se optredes nie, maar op grond van God se bemoeienis, Sy genade,
vergifnis wat jy elke dag ervaar . Tog het dit my laat wonder oor dit
wat ons gemeente aan die wêreld kommunikeer. Kommunikasie is
so ‘n groot deel van ons moderne wêreld. Dink maar net
hoe die rekenaar met E-pos as kommunikasiemedium die wêreld op
sy kop gekeer het. Die Bybel gee ook aan ons riglyne hoe om te kommunikeer.
Hoe om as beelddraers van God, te praat en te doen. I Petrus 2:12 sê:
`Gedra julle altyd goed onder die heidene sodat, al praat hulle kwaad
van julle asof julle misdadigers is, hulle julle voorbeeldige lewe
kan sien en God kan verheerlik op die dag van afrekening.' In ander
woorde gesê: Al beledig iemand jou, al het jy die geleentheid
om kwaad met kwaad te vergeld, praat op so `n wyse van ander sodat
jou optrede tot voorbeeld kan strek. Hoekom? Want daardeur word God
ons Vader verheerlik! En dit is dalk die probleem met ons wyse van
kommunikeer. Al te dikwels wil ons onsself handhaaf, ons eie stempel
en wil afdwing, in stede daarvan dat God deur ons optrede en woorde
verheerlik moet word. Ook Efesiërs 4:29 sê iets oor ons
wyse van praat. `Vuil taal moet daar nooit uit julle mond kom nie;
praat net wat goed en opbouend is volgens die eis van omstandighede,
sodat dit julle hoorders ten goede kan kom.' Hoe maklik is dit nie
om iemand af te kraak tot voordeel van myself nie, maar hoe moeilik
het dit nie geword om tot voordeel van ander iets opbouend oor en van
hulle te sê nie! In II Korintiërs 3:3 skryf Paulus: `Dit
is tog duidelik dat julle `n brief van Christus is..........' As gelowiges
by wyse van spreke briewe van Christus is, dan moet daar tog iets van
die liefde, empatie en genade van Jesus Christus in ons lewe sigbaar
wees. Wat kommunikeer ek as kind van God aan die wêreld? Wat
lees die mense by die werk, my bure, my skoolmaats, gemeentelede in
my lewe raak - ek wat `n brief van Christus is ! Lees hulle iets van
die liefde van God in my lewe raak, geduld en verdraagsaamheid, warmte
en mededeelsaamheid......... Of sê hulle ook van my lewe: `As
dit is hoe `n Christen se lewe lyk, wil ek nie `n Christen wees nie.'
Die feit van die saak is: Deur my wyse van kommunikasie kan ek God
so verheerlik dat mense my nie meer raaksien nie, maar die liefde van
God wat in my hart leef, en uitmond in my woorde, dade en optrede!
Om kwaad met kwaad te vergeld is nie `n kuns in die lewe nie. Van die
sogenaamde beste tot die slegste kan dit regkry. Nee, die kuns van
die lewe lê om in alle omstandighede die liefde van God uit
te straal. Dit vra volharding en oefening.
Ds. André Thomas
TERUG NA BO
WELGELEGEN WENSE
Jakkie v.d. Linde se Vader {Wimpie se
Oupa} is oorlede. Ons meegevoel gaan uit na hierdie gesin en
ons bid dat die Here julle sal troos met die wete dat Hy julle
met toewyding sal dra in hierdie tyd van hartseer.
Tant Grieta Joubert is ernstig siek. Ons bid dat die Here met u sal
wees in hierdie tyd. Dat beterskap sal intree en dat u, as dit die
wil van die Here is, spoedig weer gesond sal wees.
Pieter Velloen en Nikki Korf is in die huwelik bevestig. Ons wens julle
alles van die beste toe op jul nuwe lewenspad.
TERUG
NA BO
FOKUS 40 +
DEELNAME = TOEWYDING
Die tema vir hierdie maand is toewyding en dit het my dadelik aan die
Fokus 40 projek laat dink. Meeste van ons lidmate sal onderneem
om elke Sondag se erediens by te woon, elke dag 'n hoofstuk uit
die boek te lees en sewe Bybelstudie-byeenkomste by te woon. Die
projek-spanne is hard besig om alles te organiseer sodat almal,
van kleuter tot bejaarde, betrokke sal wees en welkom sal voel.
Waar kom die toewyding nou eintlik in? Ons het dit alreeds belowe
toe ons belydenis van geloof afgelê het, want toe het ons
beloof dat ons onsself diensbaar maak en na die beste van ons vermoë en
met toewyding die groei en vooruitgang van die Nederduitsch Hervormde
Kerk van Afrika sal bevorder. My toewyding sal my dus na die sewe
weke van Fokus 40, elke Sondag daarna bring na die erediens om
my dankbaarheid te toon en met blydskap God in gebed en sang te
loof, en deur die verkondiging van die woord my geloof te versterk.
BETS BOOYSEN
TERUG
NA BO
VOORDAT
DIE HAAN KRAAI ......
Daar word die mooi storie vertel van
die eerwaarde dominee wat ‘n klein bietjie verstrooid
was. Of die verhaal waar is; die weet ek nie, maar dit het
my altyd met ‘n glimlag gelaat. Terloops, ek vertel dit
met groot eerbiedigheid. Die ouer dominees sou kon vertel hoe
skeef dinge op ‘n begrafnis kon verloop. Alles is nog
goed en wel tydens die begrafnisdiens. Maar as dit by die graf
self kom, is ek altyd meer bewus van alles wat so maklik kan
verkeerd loop.
En so was die blykbaar ook met die eerwaarde dominee gewees. Alles
het goed afgeloop in die kerk en die stoet het die stadige, lang draai
gemaak met die begraafplaas reg voor hulle. Die draers was daar, die
graf was reg voorberei vir die teraardebestelling. En in ‘n gedempte
atmosfeer is daar aanbeweeg na die graf. By die graf is daar gelees
uit die Bybel, ‘n gebed is gedoen. Toe maak die dominee sy Diensboek
oop. Dit is daardie wit boekie wat elke predikant op sy rak het. Dit
bevat onder meer die ordes hoe ‘n erediens verskillend kan plaasvind
wat die orde en volgorde betref. Dit bevat al die bevestigingsformuliere
rakende die huwelik, ampsdraers en die formuliere vir die doop en die
nagmaal. Terloops, as daar nou een plek op aarde is wat ek al soveel
keer na nog ‘n stel hande of twee verlang het, was dit juis op
hierdie moment ! Want gewoonlik het jy jou Bybel by jou, die Diensboek,
en as dit reën ‘n sambreel plus nog ‘n hand vol sand.
Die eerwaarde dominee het blykbaar sy Diensboek oopgemaak. Die twaalf
artikels is voorgelees terwyl die kis gesak het. Daar was ‘n
oomblik van stilte, ‘n pouse, net om seker te maak dat alles
met die teraardebestelling vlot verloop het. En toe breek die moment
aan waar jy die begrafnisformule uitspreek wat eindig met van stof
tot stof. Die ou begrafnisondernemers het nog die mooi gewoonte gehad
om ‘n klein botteltjie spier wit sand op hierdie stadium in die
predikant se hand uit te gooi. Deesdae moet jy sommer self buk (met
al die boeke in jou hand !) en self tussen die grond en kluite bietjie
raap en skraap vir sand. Terwyl jy dan die woorde van stof tot stof
uitspreek, strooi jy hierdie wit, fyn sand of dan die raap-en-skraap-sand
oor die kis wat alreeds in die graf afgesak het. Daarmee is `n predikant
se taak by die graf so te sê afgehandel, en kan jy ontspan en
dank omdat alles goed afgeloop het.
Toe gebeur dit. Die eerwaarde dominee tree vorentoe met die Diensboek
in die een hand, en die hopie sand in die ander. Hy doen die nodige,
spreek die begrafnisformule uit wat eindig met van stof tot stof en
hy maak sy hand oop sodat die grond kan val. En toe hoor hy dit, ‘n
dowwe plofgeluid soos sy Diensboek afval.........
Hierdie verhaal (ekskuus aan die eerwaarde dominee met wie dit gebeur
het) vertel ek omdat ek glo daar ook ‘n belangrike lewensles
in is. Die tragiese gevolge wanneer ons die verkeerde hand oopmaak.
Die konsekwensies as ons ons handgreep laat los op die regte of verkeerde
dinge. Hoeveel keer wil ek nie my hand in liefde oopmaak, maar voor
ek my kon kry bal ek ‘n vuis. Of soms wil jy jou hand van genade
en vergifnis oopmaak sodat die geur van liefde jou naaste se lewe vul.
Maar as jy jou weer kon kry maak jy jou ander hand oop – die
hand van woede, haat en jaloesie.
Terwyl ons op pad was na die kruisgebeure op Goeie Vrydag het Petrus
se haan wat kraai my weer opgeval. Dit het my skaam gemaak om te dink
dat ek ook soos Petrus is wie my Heer verloën, terwyl die kruis
juis simboliseer dat God Sy Hand van liefde weer oopmaak oor elkeen
se lewe. Voordat die haan kraai, Petrus............. en die Petrusse
van die wêreld het jy jou Heer verloën. Het jy weer die
verkeerde hand van onreg en jaloesie oopgemaak.
Ds. André vanuit die pastorie
TERUG
NA BO
DIE KIERIEKLUB…
was wèèr bymekaar!!! Die byeenkoms het so half gedemp
begin, want ons voorste Kierie, Magriet, was afwesig. Namate die aand
gevorder het, het ons almeer gedemp geraak, want ds. Du Preez het 'n
kits-impromptu-Bybelvasvra voorberei! 'n Mens kon hoor hoe dink die
groep aan al die antwoorde! As 'n mens dink jou Bybelkennis is redelik,
gaan dink weer! Verroes was nie die woord nie! Nie te min was dit weereens
'n baie gesellige kuier-aand, en ons wil amper {!} vir ds. Du Preez
uitnooi, nèè UITDAAG om ons te probeer vasvra as ons
geleentheid gekry het om voor te berei! {Net geen vrae oor geslagsregisters
nie! Laat ek bieg, ek slaan dit gewoonlik oor!}
KIERIE BETS BOOYSEN
{Die ander Welgelegen
Aksies kan die koppe in toegewyde skaam-wees laat sak teenoor
die flukse, gereelde en lewendige Kierie-klub bydraes in die
WELVERTEL. Veral dan as jy in gedagte hou dat dit ons seniors
is…. {!!?} Dit laat die vraag ontstaan: Is dit die ènigste
aksie wat lèwe?!! {Red}
Kom ons lees saam
uit die Bybel.
TERUG
NA BO
DAGSTUKKIES VIR APRIL 2005!
Liewe Leser, die dagstukkies wat ds. Andrè so getrou elke maand
aan ons voorsien om te gebruik, is 'n groot werk en is voorwaar 'n
voorreg wat ons het. Kom laat ons dit met dankbaarheid nie alleen ontvang
nie, maar ook ten volle GEBRUIK en benut. Knip dit uit, bêre
dit en gebruik dit oor en oor. Dit kan tog nèt tot seën
wees vir jou. Jy kan dit in jou eie persoonlike stiltetyd gebruik of
tydens huisgodsdiens. Of deel dit uit aan ander of gebruik dit waar
jy 'n vergadering of byeenkoms moet open. As ouderling, kan jy dit
ook as 'n riglyn gebruik wanneer jy huisbesoek doen.
Ds. Andrè, baie dankie. Ons waardeer dit wat u met soveel liefde
en toewyding aan ons gee.
Datum
|
Skrifgedeelte |
Tema |
Vry. 1 April
|
Filippense 1:12-19
|
Om Christus opreg te verkondig. |
Sa. 2 April
|
Openb. 3:14-22
|
Nie lou nie, maar volhardende toewyding
aan God! |
So. 3 April
|
Matteus 23:13-28
|
Kom ons reëls na, of leef ons
die hart (liefde) van die Evangelie. |
Ma. 4 April
|
Johannes 13:1-17
|
Om te dien ...... |
Di. 5 April
|
Markus 10:35-45
|
Aansien teenoor diensbaarheid |
Wo. 6 April
|
Matteus 5:43-48
|
Aan wie moet ons goed doen? |
Do. 7 April
|
Lukas
12:13-21
|
Baie ryk, tog baie dwaas ! |
Vry. 8 April
|
Deut. 24:6-22
|
Waarom doen ek goed aan ander?(Veral
vers 22) |
Sa. 9 April
|
Johannes 8:1-11
|
As wette en die Evangelie bots |
So.
10 April
|
Galasiërs
5:16-26
|
Hoe lyk ons vrugte wat ons dra? |
Ma.11 April
|
I Kor. 1:18-31
|
Om wys te wees in die wêreld |
Di. 12 April
|
Kolossense 3:1-17
|
Vroeër het julle, maar nou ....... |
Wo. 13 April
|
Levitikus 19:1-18
|
Om heilig te wees |
Do. 14 April
|
I Petrus 3:1-7
|
Ons liefde vir mekaar |
Vry. 15 April
|
Efesiërs
4:25-5:5
|
Ons het riglyne vir die nuwe lewe |
Sa. 16 April
|
Efesiërs
5:21-32
|
Huwelikslewe voor God! |
So. 17 April
|
Efesiërs
6:1-4
|
Huishoudings se lewe voor God |
Ma. 18 April
|
Efesiërs
6:5-9
|
Waarom werk ons? |
Di. 19 April
|
Efesiërs
6:10-20
|
Ons wapenrusting |
Wo. 20 April
|
Jakobus 2:14-26
|
Doen wat jy glo ! |
Do. 21 April
|
Matteus 18:21-35
|
Vergiffenis is bitter duur |
Vry. 22 April
|
2 Samuel 11
|
God buite rekening gelaat |
Sa. 23 April
2
|
Samuel 12:1-25
|
Die gevolge van sonde |
So. 24 April
|
Miga 6:6-9
|
(a) Om bewustelik voor God te lewe |
Ma. 25 April
|
Deut. 10:10-22
|
Maatstaf om ons naaste te dien |
Di. 26 April
|
Matteus 6:1-4
|
Ons motiewe as ons help |
Wo. 27 April
|
Matteus 6:5-15
|
Gebed |
Do. 28 April
|
Efesiërs
1:15-23
|
Paulus se gebed |
Vry. 29 April
|
Efesiërs
3:14-21
|
Paulus bid weer |
Sa. 30 April
|
Lukas 18:1-8
|
Die ongelykenis - God is nie soos
die regter nie |
TERUG
NA BO
OM TE LEES
Betsie Boekwurm het hierdie maand een van ons Kerk se prestige publikasies
onder oë gehad, nl. Die Hervormde Teologiese Studies. Dit
is voorwaar 'n prestige publikasie, want ek glo daar is nie 'n
gereformeerde teologiese departement wêreldwyd wat dit nie
in die biblioteek het nie. Alhoewel dit 'n teologies-wetenskaplike
publikasie is, is daar tog artikels wat die gewone lidmaat sal
interesseer. Ek verwys graag na die artikel van P.R.Schoeman: Die
Voorwetenskaplike geskiedsbewussyn en vroeë wetenskaplike
geskiedskrywing in die Nederduitsch Hervormde Kerk. Hy trek 'n
lyn deur vanaf Prof. S.P. Engelbrecht se doktorale tesis. Ons is
vandag met soveel ander aspekte van die Kerk besig, dat ons skaars
tyd het om ernstig met ons Kerk se geskiedenis bemoeienis te maak.
Hy sê: “Die Skrif leer dat die verlede 'n groter verantwoordelikheid
plaas op die hede, met die oog op die toekoms.” Daar verskyn
ook diè woorde: “….as die gebeurtenisse van
gister die verantwoordelikheid van vandag swaarder maak ten opsigte
van die dag van mòre, dan moet ons die gebeurtenisse van
gister ken.” Gaan lees gerus die artikel. Nog 'n artikel
wat u gerus kan gaan naslaan is dié van A.W.G. Raath oor
die pioniersvrou, Hester Venter. Die HTS is op die rak in die
Kerkkantoor.
BETSIE BOEKWURM
TERUG
NA BO
HOEKOM KERK TOE
GAAN.
'n Persoon skryf aan 'n tydskrif en kla dat dit vir hom geen meer sin
maak om kerk toe te gaan nie. Hy gaan al vir meer as 30 jaar kerk
toe, het gedurende hierdie tydperk na ongeveer 3 000 preke geluister
maar kan nie een onthou nie. Hy dink hy mors sy tyd en die predikante
mors hulle tyd deur al hierdie preke voor te berei en Sondag vir
Sondag te preek. 'n Paar weke later reageer iemand op die artikel
as volg: “Ek is reeds 30 jaar getroud. Gedurende my getroude
lewe het my vrou ongeveer 32 000 etes voorberei. Maar net soos
jy kan ek nie een van die spyskaarte onthou nie. Maar dit weet
ek, al daardie etes het my gevoed en versterk, as dit nie vir daardie
etes was nie sou ek vandag dood gewees het. Dieselfde geld ook
vir die kerk. As ek nie gegaan het om geestelik gevoed te word
nie sou ek vandag geestelik dood gewees het. Wanneer jy af is,
is God besig met iets. Geloof sien die onsigbare, glo die ongelooflike
en ontvang die onmoontlike. Dank God vir ons Fisiese en Geestelike
voeding.
Ingestuur deur
GEORGE MARAIS
TERUG
NA BO
PERSPEKTIEF OP
DIE WAARDE VAN TYD
Die waarde van een lewe: Wat het ek
gedoen met Jesus wat Christus genoem word? Dit is 'n uitstekende
vraag omrede baie van wat ons elke dag doen bestaan uit
ak-tiwiteite wat min tot geen blywende - ewige - betekenis
het. Jesus sê: “...Ek het gekom sodat hulle
die lewe kan hê, en dit in oorvloed.” {Joh.10:10}
Om die tyd wat ons gegun word op die mees effektiefste manier te
benut vereis behoorlike fokus en prioriteite. Jesus sê: “Julle
moet julle dus nie bekommer en vra: Wat moet ons eet of wat moet
ons drink of wat moet ons aantrek nie. Dit is alles dinge waaroor
die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle
dit alles nodig het. Nee, beywer {i.e. wat jy soek met jou hele hart}
julle allereers vir die koninkryk van God vir die wil van God, dan
sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.”{Matt. 6:31-33}
JOHAN STONE
TERUG
NA BO
KEN JOU KERKRAAD
Die dag as die Redakteur bevel kry om sèlf gedelegeerde {L.W.}
opdragte uit te voer, dan moet jy weet….. Die lesers het geen
keuse as om tevrede te wees met wat hulle kry nie.
Robby en Annatjie Sandrock is Vrystaters wat vir die afgelope 17
jaar in Pietersburg bly. Robby is die Fotograaf by die Universiteit
van Limpopo en Annatjie 'n huisvrou. Hulle het 3 kinders. Gerrit
is in die Nooddienste en is tans werksaam in Dubai. Mari-let is 'n
Sekretaresse, wat haar so tussendeur ook wil bekwaam in Rekenaarwerk.
Sy boer met Lovebirds en Ringnekke. Juriaan is ''n Graad 11 Tommie
van Tom Naude. Hy versamel modelmotortjies. Robby se belangstelling
lê in sy veteraan Fiat 500 en 600, die maak van digitale skyfiereekse
en ook in alles wat met Fotografie te doene het. Hy is 'n ywerige
versamelaar van outydse kameras en ander fotografiese materiaal en
het alreeds vir homself 'n goeie versameling opgebou. Annatjie hou
haar self besig met haar huis en gesin, lees en skryf graag en is
ook lief vir musiek. As gesin is hulle honde liefhebbers en deel
ook in Mari-let se liefde vir haar voëls. Hulle sal ook so dan
en wan na 'n goeie krieketwedstryd of atletiek kyk. Annatjie sê:
Wees net jou eie, natuurlike self, en nie soos wat jy dink ander
jou wil of moet sien nie. Robby sê: Moenie worry nie, watch
net!!!
Geskryf in opdrag van: BETS BOOYSEN
TERUG
NA BO
NHSV SE VOLGENDE
VERGADERING
Ons volgende vergadering is op 19
April. Ons gaan boere-rate uitruil en lekker saam-kuier!
Die begin van die jaar is verby, maar dit is NOOIT te laat
om by ons aan te sluit nie. As u nie formeel betrokke wil
raak nie is u welkom om sommige vergaderings vir ons te
kom “kuier” (April se vergadering beloof om
baie interresant en snaaks te wees) U kan ook u naam vir ‘n
NHSV lid te gee om u te kontak as ons vasbrand met funksies.
Ons benodig dames om ons te help tee skink op 8 April met
Karla en Poëma se opvoering. Laat weet my of Cilma
asseblief?
Groete Jessica
nms. NHSV Welgelegen
TERUG
NA BO
TOEGEWYD JA
OF NEE...
Tydens Kerkraadkategese en met die
antwoord op die vrae in die kerk het ek weereens besef
hoeveel krag daar in die woordjie Ja lê en hoe nietig
die mens is om met toewyding ge-stand te doen aan die saak
waarvoor jy ja sê. Dis so maklik om ja te sê maar
om by ja te bly, dis die probleem. So dikwels sê ons
ja sonder om te dink. Of te besef wat dit èintlik
van ons gaan verg. As jy jouself die vraag afvra “ Kan
ek doen wat my Ja van my vra?” moet jy eintlik baie
mooi dink voor jy weereens ja antwoord. Want “Ek
dink so” of “Ek hoop so” is nie 'n toegewyde
antwoord nie. Ons sê ja, maar dink aan al die ander
ja-sake wat nog op ons wag. Of ons kreun onder die aanslag
van ons gewete omdat ons “nie regtig graag wil nie,
maar nou ja… dit is tog vir die saak. Of ons ja is
soms net om uit 'n ongemaklike situasie te kom of as ons
dit nie doen nie, wie sal?!
Staan net een oomblik stil en dink aan die ketting reaksie van negatiwiteit
van 'n ondeurdagte ja, en ek glo jy sal besef watter verreikende
gevolge dit kan hê. Dikwels is dit beter om toegewyd Nee te
sê as Ja met 'n halwe hart.. Al is dit met goeie bedoelings.
Toewyding beteken om jou alles - jou hart, jou gewete, jou verstand,
jou mens-wees, jou tyd - vir 'n saak te gee. Soos God sy toewyding
aan ons sieleheil gee. Of soos Christus wat Sy lydenspad met 'n toegewyde
Ja t.w.v. ons geloop het. Daar is nie 'n stukkie vir stukkie of later
of glad nie by Hulle ter sprake nie. En so behoort dit ook vir ons
te wees. Sê Ja vir minder en gee met toewyding. Dan sal jy
Nee kan sê met vrede in jou hart. Want jy weet jou hart is
waar jou toewyding is - daar waar jou Ja is.
ANNATJIE SANDROCK
TERUG
NA BO
HAMBURGERDAG!
Ons het ongeveer 700 hamburgers die
dag verkoop en ‘n stewige wins van R5 000 gemaak! “Enterprise” het ‘n
groot klomp vleis geskenk en dit het ons wins ‘n
groot hupstoot gegee!
BAIE DANKIE vir almal wat betrokke was!! Dit was harde werk, en so
tussen die chaos was dit tog lekker! Ons hou weer ‘n Hamburger
dag op Vrydag 3 Junie, maak asseblief ‘n knoop iewers, of skryf
dit in jul dagboek. Baie dankie dat u ons so wonderlik ondersteun
het, dit maak ons taak makliker en lekkerder!
Jessica Thomas
TERUG
NA BO
WELKLEUTER
PARTYTJIE
Op 26 Februarie het die NHSV ‘n
kinderpartytjie gehou by Erika Kleuterskool. Dit is ‘n
pragtige kleuterskool wat al ongeveer 30 jaar bestaan.
Die speelterrein is onder massiewe koeltebome en daar is ‘n
yslike grasperk en ‘n miniatuur dorpie waar kinders
in die straatjies met fietsies kon rondry en na hartelus
baljaar. Vir die mammas het Thys Kachelhoffer en Helen
Walkland (van Pro active First-Aid) ‘n baie leersame
en interessante noodhulp kursus aangebied. Daarna was Nandi
du Preez aan die woord, as arbeidsterapeut het sy ons bewus
gemaak van die belangrikste mylpale wat kinders moet bereik
vir skoolgereedheid en hoe bepalend dit is vir hul ontwikkeling.
Baie dankie aan ALMAL wat betrokke was om die dag moontlik te maak,
ook aan Erika Kleuterskool wat hul geriewe gratis tot ons beskikking
gestel het!
‘n Mens het net weer tot die besef gekom hoe bitter belangrik dit is om
ingelig te wees oor basiese feite en begrippe rakende noodhulp en dat ‘n
mens se baba fisies en verstandelik begin groei van die dag wat hul gebore word.
Ons het ‘n baie groter verantwoordelikheid teenoor ons kinders se opvoeding
en gesondheid as wat ons ooit kan besef!
NS. Ons beplan om met Moedersdag ‘n boekie uit te gee aan elke “mamma” met ‘n
opsomming van Thys en Nandi se noodhulp en arbeidsterapeut wenke,
asook allerhande boererate!. Ds. Philip Nolte gaan ook bietjie meer
vertel van emosionele intellegensie.
JESSICA THOMAS
TERUG
NA BO
Het jy al
jou Fokus 40 boek gekoop, gaan jy nog of dink jy nog
daaraan om dit te doen?
Fokus 40 is 'n geestelike reis vir almal.
Komaan, sê toegewyd Ja, doen toegewyd mee en jy sàl
dan weet: “Wat op aarde maak ek hier…!”
L&A
CONSTRUCTION & ENGINEERING
Waterman Civils
Leon Davel
Tel: (015)
291 1289 Sel: 083-627-86021
AKZI EIENDOMME
Bou, koop,
verkoop van eiendomme.
Izak Swanepoel:
082 882 0010
Susan Swanepoel: 083 446 0020
HANNELIE SLIMMERS
Geregistreerde Dieëtkundige
Ek nooi al
my vorige Weigh Less kliënte uit om my weer te kom
besoek.
Kontak HANNELIE
PRETORIUS
Sel: 082 484 6623 vir verdere inligting.